Die Braaipalstel

Die nuwe generasie Braaipal®

Die Braaipal® wat in die oranje sak verkoop word, is die 2de generasie.
Die enigste verskil is dat hierdie 2de generasie een braaivlak minder het. Marknavorsing het aangedui dat 3 braaivlakke meer as voldoende is.

Braaipalkomponente

'n Braaipalstel bestaan uit die volgende komponente:

  • 2 x Braaipal rakke
  • 2 x Verbindingstawe
  • 1 x Krulpen
  • 1 x Potjiestaander
  • Dra-sak

Hoe om die Braaipal aanmekaar te sit

Braaipal-foto

Die aanmekaarsit van die produk is bitter eenvoudig en kan letterlik binne 30 sekondes gedoen word.

Die twee braairakke het elk drie braaivlakke en word met die twee verbindingstawe aanmekaar gesit.

Hoe?
Plaas enige van die twee rakkies op die grond of op die vloer, met die rakgedeelte na bo. Neem nou die twee verbindingstawe en druk hulle deur die pypies wat deel vorm van die rak. Plaas die ander rak bo-op die oop ente van die twee stawe. Maak die Braaipal® staan op sy pootjies en verstel tot die verlangde grootte.

Jy kan ook die twee rakke simmetries opmekaar plaas sodat die twee pypies met mekaar ooreenstem. Druk die twee koppelpenne deur die pypies en keer die lotjie om sodat die Braaipal® op sy eie pootjies kan staan. Die uitstaande punte van die twee koppelpenne word nou met 'n draaibeweging van die hand verder deur die pypies gedruk totdat die pypies min of meer in die middel van die verbindingstawe is.

Aangesien die Braaipal® met 'n spesiale verf behandel word, sal jy dalk aanvanklik met 'n houthamer of houtstompie die penne moet aanhelp om deur die pypies te kom, aangesien die verflagie binne-in die pypies somtyds 'n bietjie weerstandig is. Nou kan jy die rakkies van mekaar af trek om die verlangde grootte vir jou rooster te verkry.

Die braaistaander kan, op sy wydste getrek, 'n groot visrooster vir 'n mooi snoek of kabeljou met gemak akkommodeer.
Dit kan ook baie klein verstel word sodat as Pappa net vir hom en Mamma 'n vleisie wil braai, van die heel kleinste roostertjies nog steeds sal pas.

Die krulpen

Die krulpen is eenvoudig net 'n wonderbaarlike stukkie gereedskap. Dit het, soos die naam aandui, 'n krul of haak aan die een ent en 'n handvatsel aan die ander ent. Dit is baie handig as 'n kolekrapper of om dit skuinsweg oor die boonste koppelpen te plaas, waarop 'n vleisbak geplaas word om vleis wat reeds gaar is, net warm te hou. Op dieselfde manier word braaibroodjies warm gehou. Hierdie item kan ook afsonderlik aangekoop word.

Die potjiestaander

Die potjiestaander is 'n uiters nuttige komponent wat ook as 'n staander vir 'n klein rooster kan dien om jou braaibroodjies op te rooster. Die staander is ontwerp om 'n no. 2 driebeenpot op enige van die drie vlakke te akkommodeer. 'n Groter driebeenpot, bv. 'n no. 3 of 4 pot, kan op die heel boonste vlak staangemaak word deur 'n tweede krulpen aan te skaf en die twee krulpenne na gelang van die grootte van die pot te rangskik. Die potjiestaander self kan die gewig van 'n platboompot, no. 10 of 14, met gemak dra.

Braaipal-foto

Die dra-sak

Die duursame dra-sak word van swaardiens polipropileen gemaak en kan ook as 'n algemene dra-sak ingespan word.

Braaipal-foto

Opsionele bykomstigheid

Die kolebak is 'n opsionele bykomstigheid. Kliek hier vir meer detail.

Die Braaipal® is 'n eg Suid-Afrikaanse uitvinding, en is die intellektuele eiendom van die patenthouer.
Die naam "Braaipal®" is 'n geregistreerde handelsmerk. PASOP vir namaaksels!