Wenke

Nuttige wenke

Onderhoud van jou Braaipal® is minimaal. Hoofsaak is om nie jou apparaat in reën te laat staan nie. Dit sal voorkom dat roes op een of ander stadium intree, wat onnodige behandeling met 'n roesverwyderingsmiddel sal uitskakel.

As jy altyd op dieselfde plek braai en daar is beskerming teen reën, bv. 'n binnebraai, lapa of patio, hoef jy nooit jou Braaipal® weg te bêre nie. So af en toe kan jy maar met 'n weggooilappie of koerantpapier jou Braaipal® se lyfie so 'n bietjie verlos van die ergste vetjies wat maar geleidelik sal saampak op die ysterstawe. 'n Dun lagie van hierdie vetjies sal ook die moontlikheid van selfs die geringste vorming van roes totaal uitskakel.

Afgesien van die "Weg-met-Stene!" slagspreuk van jou Braaipal, lê die groot aantreklikheid daarvan in die multi-vlak braairakkies. Die soort vleis wat kole toe moet gaan, hetsy dit skaaptjoppies, beeshaas (steak), hoender of boerewors is, sal bepaal op watter hoogtes jy met die braaiery moet begin, en op watter hoogte jy gaan eindig. Die tipe kole en die beskikbare hitte vir die braai, is die ander groot bepalende faktor. Die tipe kole hang van die bron daarvan af; kameeldoring, rooikrans, wingerdstompies, swartwattel, houtskool, brikette, ensomeer.

Braaipal-foto

Elkeen van hierdie bronne het sy eie karakteristieke eienskappe. Kameeldoring het byvoorbeeld 'n baie langer "asem" as swartwattel en lank nadat laasgenoemde se kole al uitgebrand is en koud geword het, stoom kameeldoringkole voort. Beeshaas vereis 'n baie warm vuur en moet liefs afsonderlik van ander snitte soos tjops of wors gebraai word. Vinnige omdraai van die rooster is die wagwoord. Wit vleis, soos hoender, behou sy sappigheid baie beter wanneer dit op die hoër vlakke gebraai word, m.a.w. stadige hitte en oor 'n langer tydperk (30 - 40 minute), alles weereens afhangende van die hittegraad van die kole. Die meesterbraaier leer uit eie ondervinding baie gou die hoe, wat en wanneer van vleis braai. Die "hoe" verwys na die hoogtevlakke en hittegraad van die kole. Die "wat" verwys na watter soort vleis in die braaiskottel lê. Die "wanneer" verwys na die stadium wat volgens jou die regte tyd is om die vleis van die rooster af te haal.